• +27 87 310 5310
  • admin@eurekalaerskool.co.za
  • Klisserweg, Hadisonpark, Kimberley, 8306
  • Kultuur Aktiwiteite

    Koor

    Laerskool Eureka het drie kore, naamlik die Chipmunk koor (ontwikkelingskoor vir die Grondslagfase), asook `n Juniorkoor (Gr. 1-3) en Seniorkoor (Gr.4-7). Die drie kore saam het ongeveer 190 koorlede.

    Al drie kore oefen deurlopend vir al vier kwartale. Die twee grondslagfasekore oefen gedurende skoolure en die Seniorkoor op Donderdae vanaf 14:00 -15:30.

    Die Junior- en Seniorkore neem ook jaarliks deel aan die plaaslike kunsfees, Diamant Koorfees en Jacobsdal koorfees.

    Eureka bied vanaf 2009 elke jaar in die tweede kwartaal ons eie Fees van Kore aan waaraan verskeie laerskoolkore deelneem.

    Koorlede kry aan die einde van hul Gr.3- en Gr.7-jaar `n sertifikaat by die Prysuitdeling vir die aantal jare wat hulle in die Junior- of Seniorkoor  gesing het. Koorlede wat vanaf Gr.1 tot Gr.6 deurlopend getrou koor gesing het, kom in aanmerking vir erekleure.

    Koorlede wat reeds `n jaar in die Kimberley Kinderkoor gesing het, kom ook in aanmerking vir erekleure, ongeag in watter graad hulle is.

    Landsdiens

    Die Landsdiensbeweging is ʼn omgewingsgerigte Jeugbeweging wat daarna streef om ʼn liefde vir en bewaring van die omgewing met sy veelvuldige natuurlike hulpbronne te bevorder. Die vier liefdes van Landsdiens- Liefde vir God, Liefde vir die Natuur, Liefde vir ons medemens en Liefde vir Arbeid – word in weeklikse byeenkomste uitgebeeld.

    Leerders ontwikkel verskeie vaardighede en talente en word toegerus om talle daaglikse situasies te kan hanteer. Weeklikse byeenkomste sluit ʼn verskeidenheid aktiwiteite soos Boeresport, Waterkaskenades, Handvaardighede, Demonstrasies ens. in. Kampe vind kwartaalliks plaas.

    Tans is Laerskool Eureka Landsdiens die grootste klub in die Noord-Kaap met nagenoeg 150 lede (Graad RR tot Graad 7) wat weeklikse byeenkomste bywoon. Ons verower ook Klub van die Jaar in die Noord-Kaap in 2015. Dis wonderlik om deel te wees van die Eureka Landsdiensfamilie!!!

    Musiek

    Die skool in die Noord-kaap met die grootste musiekdepartement en die wydste verskeidenheid instrumente wat aangebied word. Daar is 4 musiek-onderwysers. Ons bied 7 verskillende instrumente aan. Die skool spog met 3 kore en ʼn orff-orkes.

    musiek1

    Musiek maak ons kinders slim!

    musiek2

    Redenaars

    Laerskool Eureka neem jaarliks aan die ATKV-redenaarskompetisie deel. ‘n Oorredende en beredeneerde toespraak word vereis. Die hoofdoel is nie die oordra van kennis nie, maar om die gehoor tot die standpunt wat die spreker stel, te beïnvloed en te oorreed.

    ‘n Interne kompetisie, waar elke leerder die geleentheid kry om te mag deelneem, word gehou. Leerders neem deel in onderskeidelik die volgende afdelings: Graad 1 tot 3, Graad 4 en 5 en Graad 6 en 7. ‘n Maksimum van vier leerders per afdeling word dan gekies om Laerskool Eureka by die ATKV-kompetisie te gaan verteenwoordig.

    Vanaf Graad 6 en 7 lewer alle deelnemers ’n voorbereide en onvoorbereide toespraak vanaf die eerste uitdundrondte.

    Alle leerders word aangemoedig om aan die redenaarskompetisie deel te neem.